retiefRETIEF BURGER BIOGRAFIE                               

Retief Burger is ’n aanbidder in sy wese. Vir hom gaan dit oor meer as net liedjies.  Sy musiek vind aanklank by ’n wye spektrum mense omdat dit opreg en modern is.  Hy is egter nie net ’n aanbiddingsleier nie, maar glo dat God hom geroep het om mense te lei na die hart van die Vader. Hy het ook ‘n passie om nuwe leiers op te rig wat oor alle kerk- en generasie grense saamwerk vir een doel: om God bekend te maak en vir sy eer te leef!

 

Retief het nog nooit enige begeerte gehad om ‘n “kunstenaar” te wees nie.  Hy wou aanvanklik net relevante Afrikaanse lof- en aanbiddings liedjies skryf om die studente by Kruispunt (’n Studentebediening in Potchefstroom) in God se teenwoordigheid in te lei.  Dit was Louis Brittz wat hom na jare se getorring oorreed het om sy musiek op CD vas te lê en om sodoende die musiek tot die hele land se beskikking te stel. Retief: “As dit nie vir sy visie was nie, sou Luidkeels nooit gebeur het nie. Ons sou nooit kon droom wat die Here hiermee wou doen nie. Die doel was werklik om nuwe lof en aanbiddings- liedjies by mense uit te kry, nie om ’n groot loopbaan te begin nie.  Ek het seker drie optredes in daardie eerste jaar gedoen.  Dit was werklik die Here wat alles laat gebeur het en deur ‘ word of mouth’ het die album by mense uitgekom.  Dit was hoe ek dit wou gehad het. So eenvoudig en ongekompliseerd as moontlik, want ek wou nie my eie koninkrykie gebou het nie.”

 

Toe Luidkeels in 2005 vrygestel is, kon niemand wat dit gehoor het daaroor stilbly nie en so is die Luidkeels fenomeen gebore.  Die eerste album het intussen goue en daarna platinum status verwerf.

 

Retief se opvolg album, Luidkeels Hersien, het in 2008 die SAMA toekenning vir Beste Afrikaanse Gospel CD gewen en is goud gesertifiseer.  Toe volg Luidkidz, ’n lof album vir ouer laerskool kinders in 2008. Helena Smith was die hoofsanger en Retief het gehelp om van die liedjies te skryf.  Retief: “Ons wou graag nuwe, funky musiek vir laerskool kinders skryf. Ons wou hulle al van vroeg af die geleentheid gee om die Here kliphard en in hulle eie idioom te aanbid!” Luidkidz 2 het in 2011 ‘n GHOEMA toekenning vir die beste Kinder album van die jaar gewen. Later dieselfde jaar het Retief ook saam met Louis Brittz die aanbidding gelei by Loftus vir Jesus waar 71 000 mense byeen was terwyl Angus Buchan die boodskap gebring het en hy lei sederdien gereeld by sulke geleenthede die aanbidding.

 

Luidkeels Oorgegee was die derde hoofstuk in die verhaal. Hierdie lewendige CD en DVD is in 2009 by Moreleta park gemeente in Pretoria opgeneem. Duisende aanbidders van alle generasies was byeen vir hierdie verklaring van oorgawe en toewyding aan die Here. ’n Groot wit vlag was tydens die opname gewaai as teken van ’n generasie wat in alles aan God oorgegee wil lewe. Joe Niemand was die regisseur van die produksie en die CD het ook ’n SAMA toekenning gewen vir die beste Afrikaanse Gospel CD van die jaar en nie lank daarna nie het dit ook goue status verwerf.

 

“Dieper” is die nuutste Luidkeels album en is opgeneem tydens ‘n aanbiddingsleierskonferensie in 2012.  Die album word gekenmerk deur sy passievolle lirieke en spog met verskeie saamgeskryfde- en gesingde aanbiddingskomposisies deur musiek-vriende soos Stass, Riana Nel, Rick Moser en Mervis.  Dat dit ‘n ouditorium vol aanbiddingsleiers is wat saam aanbid het, het net bygedra tot ‘n buitengewoon ryk opname.  Luidkeels Dieper is in 2013 genomineer vir ‘n SAMA toekening sowel as ‘n HUISGENOOT TEMPO toekenning en het ‘n GHOEMA toekenning gewen vir die beste Geestelike album.

 

Retief was ook in 2012 deel van die “In Verwondering” projek.  Hy en Louis Brittz, Neil Büchner en Helmut Meijer het ‘n week in Sutherland gaan spandeer en 12 splinternuwe, Gees-geinspireerde liedjies geskryf en opgeneem.  Daarmee saam het hulle ook ‘n dokumentêre film oor hulle ervaring en die omgewing gemaak.  Die CD het in dieselfde jaar ‘n Crown Gospel Award vir die beste Afrikaanse Gospel album gewen.  In 2013 was dit genomineer vir ‘n SAMA en GHOEMA toekenning.

 

In 2010 het Retief ook sy eerste boek, Oorgegee- om luidkeels tot sy eer te leef, vrygestel. Struik Christelike Boeke was die uitgewers en die boek het al menige lewens aangeraak deur die stories agter die liedjies en die rou eerlikheid wat hy deel oor sy reis van oorgawe aan die Here.  Die sukses van die eerste boek is toe opgevolg deur ‘n tweede genaamd, “Dieper”, wat in Oktober 2013 vrygestel is.  Hierdie hartspoging was tydens ‘n baie moeilike tyd in sy lewe vasgelê en verwoord daarom Retief se sielsstryd om die dieper dinge van God raak te lewe.

 

Retief is deesdae voltyds betrokke by Every Nation, sy plaaslike gemeente in Pretoria, waar hy as senior leraar dien. Hy spandeer ook gereeld tyd met aanbiddingspanne en die leierskap van plaaslike gemeentes, veral rondom die tema van dissipelskap. Sy passie vir die kerk, prediking en sy land bly die hartklop van sy bediening. Retief: “Ek dink my grootste uitdaging is om na alles nogsteeds daagliks in alle afhanklikheid voor God te leef. Dis so maklik om net uit ervaring te bedien en voor jy jouself kan kry, staan jy leeg voor mense en sing. Dit is hier waar dit so belangrik vir my is om in ‘n plaaslike gemeente net te kan ‘wees’, gesonde lering te ontvang en ‘n gewone dissipelmaker te wees.”

 

Retief gaan wel ‘n paar optredes in 2014 behartig, maar sy eerste fokus bly sy verpligtinge by sy gemeente, waar hy sy passie vir kerk en dissipelskap kan uitleef.

 

Vir meer inligting kontak asb. vir Janine van Niekerk van Vision Promotions by 082 885 7732

 

 

Album links:

q

qq