werEk is gebore op 5 Des. 1967 op Hopetown in die Noord-Kaap.

Na skool het ek BA Teologie gaan studeer aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat in Bloemfontein. Ek het dit moeilik gevind om my belangstelling en talent in musiek te onderdruk en het in my eerste jaar deel geword van KOVSIES se revue-groep, Shimvaria, as kitaarspeler.  Aan die einde van my derde jaar het die skaal geswaai… in die guns van musiek! Ek is na Pretoria waar ek meer wou gaan uitvind omtrent kursusse in ligte musiek. Nog voor ek behoorlike inligting ingewin het, het my pad gekruis met die Dawidsanggroep van die weermag. Die groep was ten tye van my besoek aan Pretoria in Voortrekkerhoogte en ek het gegaan vir ‘n oudisie. Ek is daar en dan gekeur as een van die vier sangers van die groep wat deelgehad het aan die produksie “Alles Nuut”.

In 1989 het ek met my basiese opleiding begin en na ‘n paar kursusse het ek by die groep aangesluit.  Ons landswye toere het begin waarvan meeste optredes by skole, kerke en weermagbasisse was. Ek het as musiekleier oorgeneem en die groep van 1990 gekeur.   Aan die einde van my weermagtermyn het Radio Kansel my ‘n pos as musiekregisseur aangebied. Ek het daar begin werk en wonderlike ervaring opgedoen in die studio deur met bekende en goeie kunstenaars te werk vir ongeveer 18 maande.

Tydens hierdie periode in my lewe het ek vir God gevra of ek dan nie weer gaan optree en bedien soos gedurende my tyd saam met die Dawidsanggroep nie. Ek is ‘n ‘mens-mens’ en daar het ek elke dag in ‘n studio gesit. God het my geantwoord deur vir my ‘n geleentheid te gee toe ds. Aubrey Botha my gevra het om tydens ‘n kamp wat hy aangebied het, te sing. Ek het net ‘n draagbare kassetspeler en my kitaar saamgeneem. Sonder mikrofoon het ek ‘n paar liedere gesing, waarvan ‘n hele paar Dawidsanggroep ‘songs’ was. ‘n Man wat op die kamp was, met wie ek later goed bevried geraak het, het my die volgende dag gebel en gesê dat die Here dit op sy hart gelê het om vir my ‘n klanksisteem (luidsprekers, versterker, mikrofoon ens.) te koop. Nog daardie selfde week het hy dit gedoen en God het weereens Sy getrouheid aan my bewys.

Ek het voltyds in sangbediening ingegaan, meestal gefokus op die jeug.  Ons het selfs ‘n draai in Amerika gegooi met die bediening.  So het twee CD’s die lig gesien, “Learn to discern” en “a Live dive into worship.”

Na die vrystelling van die derde CD, “All of me” het God egter die krane van die bediening wat Hy my gegee het, begin toedraai omdat areas in my emosionele- geestelike-, huweliks- en gesingslewe dringend aandag nodig gehad het. Ek was ongelukkig ongehoorsaam in ‘n paar kernaspekte van my lewe wat meegebring het dat God toegelaat het dat ek diep in die woestyn gaan draai het. Intussen het my liefling-vrou, ouers en naby-vriende daagliks vir my gebid en ten spyte van my verblinde oë, aangehou om my te ondersteun.

In 2005 het ek betrokke geraak by Elardusparkgemeente in Pretoria as voltydse musiekleier. Ek dank die Here vir leraars en gemeentelede wat vir my en my gesin baie omgegee het en toegelaat het dat ek my gawes ruim kon uitleef.

Gedurende hierdie jaar het God ook persone oor my pad gestuur wat bereid was om as broers en vriende, ‘n pad van genesing en herstel met my en my familie, te stap. Ek loof die Here vir opregte mense soos hulle teenoor wie ek my hart kon deel en met wie ek nog steeds in ‘n “accountablility”-verhouding kan staan.

Aan die einde van 2005 het ek met my vierde cd-projek begin. Die fokus het hierdie keer verskuif van jeug na die gesin. Die cd, “Nuwe Krag”, verteenwoordig grepe uit my lewensverhaal en die liedere is ‘n weergawe van dit waarvan my hart oorloop na my tyd in die woestyn. Die eerste amptelike vrystelling van die cd het op 13 Mei in Melkbosstrand plaasgevind. NUWE KRAG op die voorstoep van Koeberg… Dit was defnitief nie MY beplanning nie!!

Nadat die groot Shirurg ‘n hele paar operasies op my uitgevoer het en na die hersteltyd in Sy hospitaal, het Hy weer aan my die geleentheid gegee om dit waarvoor Hy my geroep het, te hervat. Ek is tans weer voltyds besig met ‘n landswye musiekbediening en vind reeds dat God my instrumenteel in areas gebruik waarin ek vars ondervinding opgedoen het.

My gesin is nou ook meer deel van die bediening as ooit! Ons twee kinders sing elkeen ‘n versie van ‘n lied op die nuwe cd, Nuwe Krag, en sing nou ook gereeld saam met my tydens optredes. Trudine het nog altyd die behoefte gehad om die dwarsfluit te bespeel, wat ‘n wonderlike instrument is om tydens aanbidding te gebruik. ‘n Rukkie gelede het iemand vir haar ‘n splinternuwe fluit as ‘n geskenk gegee en dus vertrou ek dat dit nie lank sal wees voordat sy saam met my kan speel tydens optredes nie.

Aan God al die eer vir Sy liefde en genade. Ons wil daagliks Sy Koninkryk en Sy wil eerste soek sodat dieselfde gesindheid wat in Christus is, ook in ons kan wees (Fil.2:5)

 

 

 

Album link:

re

wian